Madelie Human vertel oor die ontstaan van Allesbehalwe:

My pa het altyd oor die verskille tussen mense se opvoeding en hul verskillende maniere van doen, gesê : “Dis duidelik ’n ander voël se kuiken daai.”

Enige liefdesverhouding verg aanpassing om te kan slaag en as die paartjie se opvoeding hemelsbreed verskil, kan die vonke behoorlik spat. Toe wonder ek hoe dit sal werk as ek die held en heldin van my storie sulke radikaal verskillende agtergronde gee – vandaar

View original post 237 more words

Dis hoekom ek liefdesverhale skryf!

                                               “Explanation by the tongue makes most things clear,
But love unexplained is clearer. – Rumi”

Niemand kon nog ooit die liefde tussen man en vrou werklik verduidelik of verstaan nie. Nie een digter of skrywer kon deur al die eeue ‘n vinger presies op die regte woorde lê nie, daarom hou ons aan probeer.

Ek dink die liefde ontwikkel vir elke paartjie anders en dis juis daardie andersheid wat elke liefdesverhaal uniek en HEERLIK maak!!

Diesulkes wat die romanse en die skrywers daarvan afkraak, kan gaan doppies blaas. Ek’s mal daaroor!!

Is jy ’n boekwurm of ’n boekesnob?

Toets jouself:

Is jy ’n boekwurm of ’n boekesnob?

  1. Sit jy sekere boeke op die koffietafel in die sitkamer en ander op jou bedkassie, of dalk in die mandjie langs die toilet?
  2. Lees jy sekere boeke op die vliegtuig en ander op die strand of tuis?
  3. Verwys jy neerhalend na sekere genres wanneer jy in ’n spesifieke geselskap is, maar in die geheim geniet jy om dit te lees?
  4. Dink jy ’n digter is ’n trappie hoër as bv. ’n ontspanningsromanskrywer?
  5. Lees jy sekere boeke omdat jy graag ander mense wil beïndruk met jou belesenheid?
  6. Dink jy dit verg minder skryfvaardighede om sekere genres te skryf as ander?
  7. Het jy ’n lang lys van bekende skrywers op jou vriendelys op Facebook, maar jy ken hulle van geen Adam se kant nie?
  8. Noem jy graag bekende skrywers se name asof jy hulle persoonlik ken?
  9. Lees en geniet jy sekere boeke in die geheim?
  10. Dink jy sekere genres is makliker om te skryf as ander?

Hoeveel keer het jy (eerlik!) JA geantwoord? Nee, moenie verduidelikings verskaf nie! Is jy dalk ‘n boekesnob?

’n Proeseltjie uit Allesbehalwe

“Goeie donner, kyk daai kar!” Met daardie swets verloor hy skynbaar alle belangstelling in die hand wat sy uithou om te groet, fluit tussen sy tande deur en loop rondom haar kar. “Waar kry jy hierdie beauty?” Corneli laat sak haar hand. Ongeskikte, onopgevoede watsenaam! Soos alle ander mans is sy aandag onmiddellik vasgevang deur haar motor en vervaag sy tot ver in die agtergrond. Tipies.

“Van my oupa geërf,” antwoord sy onwillig.

“Blikskottel, jou oupa was seker skatryk. ’n Morgan uit die vyftigerjare skop ’n ou nie agter elke bos uit nie. Hulle kos megabucks en is so skaars soos hoendertande. Magtig, dis mooi.” Hy streel eerbiedig oor die motortjie se neus. Lees voort

Proestukkie: Bosveldliefde vir Jemma – Amelia Strydom

“Verkoop jy iets, Reuben?” vra Jemma, haar stem tot ’n pylpunt geslyp toe sy hom op die naam noem. “Want ek kan jou sommer nou al sê ek stel nie belang nie. Miskien moet jy bietjie jou reëlboek vir mediese verkoopsverteenwoor-digers lees. Dis nie juis slim taktiek om potensiële kliënte te beledig nog voordat jy die produk bekendgestel het nie.”

“O nee, ek verkoop niks nie. Ek’s ’n dokter, hoor, g’n rep nie!” Hy probeer nie eens sy binnepret verdoesel nie. “Ek stel in jou professionele dienste belang.” Lees voort

’n Kuiertjie met Amelia Strydom, skrywer van mediese romanses

“Deur die eeue is vroulikheid geassosieer met alles wat liggaamlik en vleeslik is (soos seks), terwyl manlikheid verbind is aan die intellektuele en geestelike. Hoewel ons samelewing op die oppervlak radikaal verander het, skuil hierdie siening steeds in ons kollektiewe bewussyn.”  – Amelia Strydom

Het jy romanses gelees voor jy hulle self begin skryf het?

My liefde vir romanses het begin met my Ouma Marie se grootdrukboeke. Ek kon nooit genoeg leesstof op vakansie saamneem om my besig te hou nie. Daar was eenvoudig nie plek in die kar nie. (Dankie tog vir my Kindle, ek reis deesdae soveel ligter!) As my rantsoen gedaan was, het ek Ouma se biblioteekboeke deurgedraf. Tryna du Toit en Ena Murray was my gunstelinge. Ek onthou hoe my hart altyd so ‘n bietjie vinniger geklop het wanneer ek een van M Strydom se boeke opgetel het. Dan kon ek my amper verbeel dis mý naam op die rugkant. Lees voort

Allesbehalwe is op pad!

Ek het net gister die buiteblad van my nuutste romantiese komedie, Allesbehalwe, gekry! Sy verskyn in September.

Corneli Lange se werkgewer rig ‘n baie vreemde versoek wat sy nie durf weier as sy haar werk wil behou nie. Sy moet die baas se kleinseun, wie se opvoeding veel te wense laat, ’n bietjie touwys maak sodat hy gereed sal wees om sy aansienlike erfporsie in ontvangs te neem. Die man is inderdaad ’n ploert. Sy gril behoorlik vir sy maniere. Hoe is dit moontlik dat hy ook ander gevoelens in haar wakker maak? Hoekom vind sy, wat net die beste en fynste gewoond is, so ’n ruwe diamant opwindend? Is daar in elke vrou ’n onbewustelike begeerte om in die arms van ’n ‘bad boy’ te beland? Terwyl sy onverrigtersake spook om hom maniere te probeer leer, neem hy haar letterlik op ’n dolle rit wat haar lewe totaal kan verander!

Seisoen van genade – Alta Cloete: Lekkerlees Afrikaans!

Ek het met groot afwagting uitgesien na hierdie boekpakkie van LAPA Uitgewers af en was nie teleurgesteld nie. Die eerste drie liefdesromans uit Alta se pen (wat bekend staan as haar Geur-reeks) het ek terdeë geniet en kon nie wag om te sien wat die eerste boek in haar Seisoen-reeks vir my as leser gaan inhou nie.

Die storie het my van bladsy een af gevat en meegesleur. Alta, met haar heerlike beheer van Afrikaans so reg uit die volksmond, stel my ook nie teleur nie. Ek lag uit my maag vir haar fieterjasielose uitdrukkings soos: “Hy strip sy moer net daar, ordentlik en finaal …” en summier besluit ek die kos kan maar brand en die foon kan in sy peetjie in lui, maar hierdie boek sit ek nie neer voor hy klaar is nie.

Die hoofkarakters het sommer diep in my hart ingekruip met hul unieke geite en spitsvondighede. Elkeen dra ook swaar aan bagasie uit die verlede en beveg sy/haar eie duiwels om beter mense anderkant uit te kom. Ek pink ’n hele paar traantjies. Geen een van hierdie diepgaande ervarings word egter sentimenteel uitgebeeld nie. Die skrywer se vertelling is weldeurdag en oortuigend. Knap gedaan, Alta!!

Hierdie reeks stories handel oor die jonger geslag wat reeds in Alta se eerste reeks hul verskyning gemaak het. Ek hou van reekse, want die karakters voel later vir my soos familie en ek kan nie wag om te sien wat in die volgende storie gaan gebeur nie. Ander lesers voel weer hulle raak verveeld met dieselfde mense oor en oor.

Wat dink jy en hoe het jy hierdie boek ervaar? Laat hoor sommer hier van jou.

Die binneversiering van die werkplek van ‘n skrywer …

Wat is die belangrikste dinge in ’n skrywer se werkplek?Ek sien op Facebook het die Boekrakkers van die Lekkerlees Boekrak almal foto’s van hul werkplekke geplaas. Al wat leef koekeloer nou of hulle iets op daardie uitstekende skrywer se lessenaar sal kan opmerk wat, as hulle dit sou nadoen, dit vir hulle net dalkies so ’n bietjie van daardie glorie sal bring. Baie groot skrywers poseer agter op hulle boeke in hul studeerkamers waar die groot meesterstukke gebeur. Jy gryp ’n vergrootglas en kyk of jy kan sien presies watter naslaanwerke daar op die boekrak agter die lessenaar is wat jou dalk kan help om ook soos hulle te kan skryf.

Dis egter nie die indrukwekkende studeerkamer of die rakke vol goeie naslaanwerke en die beste tegnologie tot jou beskikking wat eendag van jou ’n puik skrywer gaan maak nie, dis iets heel anders. Lees voort

NOG 5 e-boeke!!

Lesers wat hierdie boeke wat reeds uit druk is, gemis het toe dit verskyn het, sal die volgende vyf titels ook binnekort as e-boeke kan aanskaf. LAPA werk hard aan die omskakeling van die boeke na e-boekformaat en sodra dit gereed is, sal lesers in kennis gestel word waar dit te koop sal wees. Daar is reeds ‘n klompie te koop by http://www.kalahari.com